Mense wat Maandag met ’n rand-skok begin het, kan ’n effense sug van verligting slaak nadat die rand tot 83c van sy verlore veld teruggewen het.
Die rand het teen 08:30 op R13,25 teenoor die dollar verhandel – 82c sterker as die oornag-laagtepunt van R14,07.
Teenoor die pond het die rand 83c veld gewen, van die swakste punt van R21,56 af tot R20,73.
Teenoor die euro het die rand nie heeltemal soveel veld gewen nie, maar darem 43c sterker as die laagtepunt van R15,57 op R15,14 gestaan.
Suid-Afrikaners het nog kwalik gewoond geraak aan R13 per dollar of die rand het tot R14 teenoor die greenback geval.
Dit is die swakste wat die rand nóg was. Die vorige laagtepunt, van R13,85, is in Januarie 2002 aangeteken.
In die grootste daling in vier jaar het die rand oornag meer 3% – en meer as enige ander ontluikende geldeenheid – getuimel.
Die rand het vroegoggend tot so laag as R14,07 teenoor die dollar geval. Teen 07:14 het dit teen R13,31 verhandel. Die rand het vanjaar al met 14% teenoor die dollar verswak.
Die rand het ook oornag sy laagste vlak nóg teenoor die euro gehaal, naamlik R15,57. Teen 07:14 was dit R15,28.
Teenoor die pond, waarteenoor die reeds op rekordlaagtepunte verhandel, is R21,56 getref voordat dit teen 07:14 tot R20,88 veld probeer terugwen het.
Dit te midde van ’n bloedbad vroeg Maandag op Asiatiese aandelebeurse.
Die verlangsaming in China – die grootste mark vir Suid-Afrika se hulpbronne – sowel as die onsekerheid oor of die VSA in September rentekoerse gaan verhoog, kry die skuld vir die slagting.
Bloomberg raam dat die Chinese ekonomie op die oomblik met net 6,6% groei, maar pessimiste raam groei so laag as 2%.
Rand besonder broos
Nizam Idris van Macquarie Bank in Singapoer sê die rand is een van die geldeenhede waar baie buitelandse geld “geparkeer” was. Dié beleggings word nou onttrek.
Die broosheid van die rand beaam wat Mohammed Nalla, hoof van strategiese navorsing vir Nedbank Capital, vroeër aan Sake gesê het, naamlik dat die rand méér ly as ander ontluikende geldeenhede, juis omdat dit in ’n meer likiede finansiële mark is.
In sy oggendmarkverslag sê Nalla ook die rand se skerp val is “ietwat verbysterend”. “Hoewel ontluikende markte kwesbaar bly en die situasie in Chinese aandele swak bly, lyk dit asof die omvang van die rand se swakheid op die oomblik buite verhouding is met dié van sy eweknieë.”
Die rand word reeds as een van die “treurige 10” geldeenhede bestempel.
Tarsicio Tong van Union Bank of Taiwan in Taipei sê ’n bose kringloop lê vir hulpbron-verwante geldeenhede soos die rand voor, aangesien lae hulpbronpryse ook werkloosheid kan vererger en ekonomiese groei kan onderdruk.
Hy sien geen sterk verbetering in die nabye toekoms nie.
In Asië het aandeelpryse Maandag ook skerp gedaal, met die Sjanghai- saamgestelde indeks 8,5% laer en die Topix-indeks in Japan in ’n stadium 10% laer. Hongkong se Hangseng-indeks is reeds in ’n beermark nadat dit sedert April met 25% geval het.
Wêreldwyd het aandelebeurse meer as $5 000 miljard se waarde verloor sedert China op 11 Augustus sy yuan gedevalueer het.
“Dinge gaan waarskynlik erger word voordat hulle verbeter,” het Nader Naeimi van AMP Capital Investors in Sydney, Australië, gesê.
Die Australiese dollar het met 1,2% gedaal en Nieu-Seeland s’n met 1,4%.
Article credit: http://bit.ly/1JfzbOv