Motoriste het nog skaars die eerste tenk goedkoper petrol leeg gery of dit wil-wil lyk asof September óók goeie nuus gaan bring.
Maar die verswakkende rand kan dalk dié band laat bars.
In die eerste week van die maand wat vir September se brandstofpryse in berekening gebring word (31 Julie tot 27 Augustus), was daar ’n stewige oorverhaling van 67c per liter op die prys van 95-oktaan-petrol.
Die oorverhaling op die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% was Vrydag (7 Augustus) 80c en op 0,05%-diesel 83c per liter.
’n Oorverhaling is dít wat motoriste te veel vir brandstof betaal en dus met hoeveel die prys in die daaropvolgende maand kan daal.
Die beweging van ’n mandjie brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers word daagliks bygewerk vir dié gemiddelde oor- of onderverhaling.
Dit sou regtig voortydig wees om te voorspel wat die oorblywende byna drie weke inhou totdat brandstofpryse op Vrydag 28 Augustus vasgepen word.
Te veel olie op wêreldmark
Die huidige oorverhaling kan toegeskryf word aan die daling – ná ’n effense oplewing in Junie – van ruoliepryse.
Maandag het die prys van olie vir die vierde opeenvolgende dag gedaal.
Brent-ruolie het Maandagoggend teen $48,24 per vat verhandel nadat dit verlede week met 6,9% gedaal het. Die prys het in die jaar tot dusver met 18% gedaal.
Verskeie ontleders – onder meer van Société Générale en JP Morgan Chase & Co. – reken dat die olieprys nog verder gaan val. Sedert die Junie-hoogtepunt het die olieprys al met 25% gedaal.
JPMorgan verwag dat Brent-ruolie in die tweede helfte van die jaar gemiddeld $50 per vat sal kos.
Die wêreld het steeds ’n ooraanbod van olie. Daar was vroeër vanjaar tekens dat produsente in die VSA produksie gaan afskaal, maar die aantal aktiewe oliebore styg nou al drie opeenvolgende weke. Daar is nou 670 aktiewe oliebore landwyd, volgens data van die navorsingsfirma Baker Hughes.
Die VSA se voorraad olie is meer as 90 miljoen vate bo die vyfjaar- seisoenale gemiddelde.
Die grootste lidlande van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul), soos Saoedi-Arabië, gaan voort met rekordproduksie.
Article credit: http://bit.ly/1L3GImW