’n “Dead-cat bounce”. Dis wat sommige ontleders die kortstondige styging in oliepryse noem.
Dit volg op die Internasionale Energie-agentskap (IEA) se voorspelling dat oliepryse teen die tweede helfte van vanjaar weer kan begin herstel.
Die IEA sê daar is reeds tekens dat laer pryse die produksie van olie in sommige gebiede soos Noord-Amerika laat inkort.
Brent-ruoliepryse het oor die naweek met meer as $2 tot bo $50 per vat gestyg, berig Reuters, maar het Maandag weer tot onder dié kerf teruggesak. West Texas Intermediate, die maatstafprys vir Amerikaanse ruoliepryse, het ook oor die naweek effe tot $48 per vat herstel, volgens Bloomberg.
Volgens die IEA is sy raming vir die groei in olieproduksie buite die Opul-kartel nou 350 000 vate per dag minder as sy raming in Julie, en die laer produksie sal later vanjaar tot ’n “herbalansering” lei wat pryse sal lig.
Afrika
Zainab Usman, ’n navorser oor die olie-ekonomie wat aan haar doktorsgraad by Oxford werk, skryf in ’n artikel vir die Midde-Oosterse nuusdiens Al Jazeera dat die val in oliepryse veral vir olieproduserende Afrikalande en aspirant-olieprodusente in Afrika knou wat gehoop het op groot nuwe rykdom.
Usman waarsku afhangende van hoe lank die oliepryse so laag bly, kan dit dié lande se valutareserwes laat leegloop, begrotings onder druk plaas, welsynsbesteding sny, ander besnoeiingsmaatreëls aanwakker en die lande met nuwe skuld opsaal.
Huidige voorspellings wissel van $43 per vat vir die eerste helfte van vanjaar tot $95 teen die jaareinde.
Sy sê veral veteraan-olie-uitvoerders soos Angola, Nigerië, Ekwatoriaal-Guinee, Suid-Soedan en die Demokratiese Republiek van die Kongo word geraak, want hulle is vir tussen 50% en 70% van hul staatsinkomste van olie afhanklik.
Besnoeiings
Evan Kelly, nuusredakteur van die Londense beleggersnuusbrief OilPrice Intelligence, skryf in die jongste uitgawe baie van die groot oliemaatskappye is reeds besig met drastiese besnoeiings aan bedrywighede, personeelgetalle en kapitaalbestedingsplanne. Die besteding aan internasionale eksplorasie en produksie kan vanjaar met meer as 30% val – die grootste sedert 1986 – as die olieprys so laag bly.
“Bank of America voorspel Brent-termynkontrakte kan teen die einde van die eerste kwartaal tot $31 per vat val weens snelgroeiende internasionale olievoorraadvlakke,” skryf Kelly.
BP het reeds planne om 300 poste in Skotland te sny.
ConocoPhillips sny 230 poste in Brittanje, en Suncor Energy gaan 1 000 mense aflê. Die oliedienstegroep Schlumberger verwag om vanjaar meer as 9 000 poste te sny.
Continental Resources het sy besteding vir vanjaar met 41% gesny, en Range Resources syne met 33%. Shell het ’n projek van $6,5 miljoen in Katar gekanselleer, en Statoil het sy eksplorasieplanne in Groenland laat vaar, berig OilPrice Intelligence.
Article credit: http://www.netwerk24.com/sake/2015-01-20-lae-olieprys-het-n-skadukant-maan-kenners