Al is dit ’n oortreding wat gereeld by winkelsentrums en in parkeerterreine plaasvind, is daar steeds baie Suid-Afrikaners wat nalaat om hulleself teen afstandbeheer-blokkering te beveilig. Om sake te vererger is daar heelwat versekeraars wat voertuigeienaars nie vir hierdie soort insident dek nie, aangesien hulle dit as bestuurdernalatigheid beskou.

“Alhoewel baie mense teen hierdie beleidsvoorbehoud protesteer, lê die probleem by die motoreienaar se vermoë om te bewys dat daar inderdaad diefstal plaasgeval het, óf van die voertuig self of van die inhoud,” sê Nthabiseng Moloi, die bemarkings- en handelsmerkhoof van MiWay.

“Sonder enige sigbare skade of tekens dat daar aan die voertuig gepeuter is, kan ’n versekeraar nie nalatigheid as ’n moontlike rede vir skade uitskakel nie, en kan die kontrak basies nietig verklaar word.” Dit is dus belangriker as ooit om jouself teen moontlike afstandbeheer-blokkering te beskerm, en ekstra waaksaam te wees wanneer jy van jou motor af wegstap.

Hier is ’n paar nuttige wenke van MiWay om die risiko vir afstandbeheer-blokkering te verlaag:

Maak dubbel seker

Die feit van die saak is dat jy so ’n voorval kan voorkom deur oplettend te wees. Rowers reken op die feit dat die meeste van ons haastig uit die motor wil kom en die afstandbeheerder sommer in die wegstap aktiveer.

Wanneer jy in die vervolg op ’n openbare plek parkeer, wag ’n paar ekstra sekondes om seker te maak dat jou motor gesluit is voordat jy wegloop. As die motor eers gesluit is, is daar niks wat ’n afstandbeheer-blokkeerder kan doen om dit om dit te verander nie..

Moenie jouself ’n teiken maak nie

In baie gevalle is dit nie soseer die motor wat die teiken is nie, maar die inhoud daarvan. Voorkom potensiële nalatigheid deur seker te maak dat jou waardevolle besittings nie van buite af sigbaar is nie. Deur die aanloklikheid van jou motor as teiken te verminder, is daar ’n kleiner kans dat jy ’n slagoffer van diefstal gaan word.

Installeer ’n volgtoestel

Deur ’n motorvolgtoestel in jou voertuig te installeer, vergroot jy nie net die waarskynlikheid dat jou motor in die geval van diefstal opgespoor sal word nie, maar jy verbeter ook jou kans op ’n suksesvolle eis. Deur jou risikostatus te verlaag, plaas jy jouself in ’n sterker posisie om vir skade te eis, aangesien versekeraars jou motor se bewegings kan volg en die geldigheid van jou eis vasgestel kan word.

Article credit https://www.goeiehuishouding.co.za/keer-so-dat-jou-motor-se-afstandbeheer-onderskep-word/