Heelwat beleggers het dikwels nie die tyd, kennis of ervaring om suksesvol te belê nie. Hulle loop hulle dikwels in probleme vas wat eintlik vermy kon word as hulle ’n onafhanklike finansiële adviseur se hulp gehad het.

“ ’n Adviseur sal seker maak dat ’n gedissiplineerde spaar- en beleggingsproses ingestel en onderhou word.

“Dit gee beleggers die waarde van tyd in die mark, wat ’n ­vereiste vir groei is,” sê Jeanette Marais, direkteur van distribusie en kliëntediens by Allan Gray.

Onafhanklike finansiële adviseurs is heelwat meer as net produksoekers. “Hulle speel ’n uiters belangrike rol om beleggers te help om die regte besluit volgens hul omstandighede te neem.”

Meer as een raadgewer dalk nodig

Net een raadgewer vir jou risiko- en finansiële beplanning is nie meer altyd die antwoord vir die beste advies en oplossings nie.

Dis baie belangrik dat verbruikers onderskeid tref tussen die advies wat hulle moet kry vir hul beleggings en lang- en korttermynversekering.

So sê Justus van Pletzen, uitvoerende hoof van die vereniging van finansiële tussengangers (FIA).

Finansiële raadgewers het nie almal ewe veel kundigheid of ervaring of dieselfde produkaanbieding nie.

Hulle word volgens hul kwalifikasie en ervaring gelisensieer vir die soort dienste en produkte wat hulle mag verteenwoordig.

Dit beteken dat iemand wat byvoorbeeld ’n spesialis in korttermynversekering is, nie noodwendig die kennis of kwalifikasie het om beleggingsadvies of advies oor lewensversekering te gee nie.

“Die adviseur behoort net advies te gee vir die produkte waarvoor hy gelisensieer is. Dit is sy spesialisveld,” sê Van Pletzen.

Hy beveel aan dat verbruikers op die Raad op Finansiële Dienste (RFD) se webwerf die status van die adviseurs nagaan om seker te maak vir watter produkte en dienste hulle wel gelisensieer is.

“Die kliënt behoort in elk geval ’n bekendstellingsbrief van die makelaar te kry, maar dit kan ook goed wees vir die ­kliënt om die persoon se status na te gaan as daar onsekerheid is.”

Die FIA kan ook verbruikers na ’n adviseur in hul omgewing verwys wat die toepaslike kwalifikasies het om aan ’n verbruiker se spesifieke behoefte te voldoen.

’n Adviseur wat byvoorbeeld lid is van ’n organisasie soos die FIA, moet aan ’n etiese kode voldoen en word konstant op hoogte van die jongste ontwikkelinge in sy bedryf gehou om ingelig te wees en sy kliënt doeltreffend te kan help,” sê Van Pletzen.

Spesialiste

■ Korttermynversekering behels onder meer huis- en motorversekering, terwyl langtermyn­finansiëledienste voorsiening maak vir risiko-dekking en welvaartskepping deur onder meer op aftreebeplanning, beleggings asook lewens- en ongeskiktheidsdekking te fokus.

■ Daar is voorts finansiële raadgewers wat in mediesefondsprodukte spesialiseer.

■ Adviseurs kan ook van ander kundiges se hulp gebruik maak om na spesifieke areas van jou omvattende plan te kyk, soos belasting-, regs- en boedelkwessies.

Heelwat makelaarsgroepe en korporatiewe maatskappye het raadgewers binne hul netwerk wat gekwalifiseer is om omvattende finansiële dienste aan te bied.

Dit maak dit dan makliker vir die verbruiker om binne dieselfde groep advies van kundiges te kry.

“Om ’n finansiëledienste-adviseur of -makelaar se dienste te gebruik, is waarskynlik die beste raad wat ek kan gee. Die adviseur sal dan die regte mandjie van produkte as oplossing voorstel.

“Kortom, is die waarde van finansiële advies dat dit jou in staat stel om ’n beter en meer ingeligte besluit te neem sodat jy vorentoe in ’n beter finansiële posisie kan wees as wat jy sou gewees het as daar geen voorsiening gemaak is nie,” sê Van Pletzen.

Beplanning ’n moet vir aftrede

Professionele advies is noodsaaklik vir suksesvolle aftreebeplanning en risikobeskerming.

Karin Muller, hoof van Sanlam se Growth Market Solutions-afdeling, sê Sanlam se navorsing toon ’n kommerwekkende aantal mense vra hul mensehulpbron-afdeling, vriende of familie se raad oor die belegging van hul aftreegeld pleks daarvan om professionele advies te kry.

“Om dit in perspektief te stel: Die navorsing wys dit is vir minder as ’n derde van Suid-Afrikaanse afgetredenes moontlik om hul lewenspeil ná aftrede te handhaaf en slegs 58% van pensioentrekkers kry advies voor hul aftrede. Sowat een derde van dié wat advies gekry het, het dit eers gekry toe hulle uiteindelik aftree.”

Aan die ander kant het 88% van die afgetredenes wat finansieel welvarend is, vroeg in hul werkloopbaan professionele advies gekry.

“Dit bevestig baie duidelik hoe belangrik dit is om die raad van ’n professionele persoon te kry wanneer jy die belangrikste finansiële besluite in jou loopbaan neem.”

Volgens Muller begin aftreebeplanning en -voorsiening die dag wanneer jou loopbaan begin of wanneer jy jou by ’n aftreefonds aansluit. “Die aftreebesluite wat jy in jou loopbaan maak, sal uiteindelik bepaal hoe gemaklik jy gaan aftree.”

Sy wys ook daarop dat professionele advies van kritieke belang is om besluite oor inkomstebeskerming te neem. “Daar is soveel risiko’s, soos om ernstig siek te word sodat jy nie meer kan werk nie; of om te sterf voor jou kinders in staat is om vir hulself te sorg.”

“ ’n Gekwalifiseerde finansiële beplanner kan jou help om op die regte koers te bly,” sê Muller.

Vermy dié ses beleggingsfoute

Volgens ​Jeanette Marais, direkteur van distribusie en kliëntediens by Allan Gray, help ’n goeie adviseur beleggers om die volgende tipiese beleggingsfoute te vermy:

Fout 1: Belê sonder ’n finansiële plan

’n Goed deurdagte finansiële plan is ’n noodsaaklike beginpunt om finansiële vryheid te bereik.

Onafhanklike finansiële adviseurs kan beleggers help om ’n werkbare plan om hul persoonlike doelwitte en behoeftes te ontwikkel.

Fout 2: Belê in die verkeerde produk of fonds

Die keuse van fondse en produkte is geweldig belangrik. Verskillende produkte het verskillende belastingstrukture en verskillende fondse het verskillende beleggingsdoelwitte. ’n Adviseur kan beleggers help om die keuses te maak wat hul omstandighede pas.

Fout 3: Vergeet van inflasie

Geld moet in die regte produk belê word om minstens die waarde van die geld vir die duur van die belegging te behou.

Fout 4: Beskerm nie aftreegeld as jy van werk verander nie

Dit is een van die hoofredes waarom mense nie met genoeg geld aftree om van te leef nie.

Fout 5: Fokus net op een mark of bateklas

Een van die sleutels tot suksesvolle investering is diversifikasie. Bykomend tot Suid-Afrikaanse beleggings kan byvoorbeeld buitelandse beleggings as deel van ’n portefeulje beleggers help om hul spaargeld te bou terwyl hul risiko verlaag word. ’n Onafhanklike finansiële adviseur kan beleggers help om te diversifiseer en so blootstelling aan verskeie beleggingsopsies te kry.

Fout 6: Tree volgens emosies op

Beleggers skuif dikwels tussen beleggings en vernietig daardeur die waarde van hul beleggings. ’n Onafhanklike finansiële adviseur kan beleggers help om nie in dié slaggat te trap nie.

Artikel krediet: http://www.netwerk24.com/sake/2015-01-25-s-kan-finansile-raadgewer-jou-op-koers-hou