Motoriste moet hulle maar staal vir ’n stewige petrolprysstyging in Junie.

Die prys van Brent-ruolie het verlede week vir die negende week in ’n ry gestyg en het Maandag $67,85 per vat gehaal.

Teen Vrydag (die nuutste beskikbare syfers van die Sentrale Energiefonds) was die onderverhaling op 95-oktaan-petrol sowat 48c en op die groothandelprys van diesel met ’n 0,05%-swaelinhoud sowat 57c.

Die onderverhalings – dus met hoeveel brandstofpryse gaan styg – word daagliks bygewerk en daar is nog byna twee weke oor waarin die twee belangrike faktore – internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers – kan skommel.

Die petrolprys vir Junie word op Vrydag 29 Mei aangekondig en word op Woensdag 3 Junie van krag.

Brent-ruolie is nou al 43% duurder as die laagste prys vanjaar, wat op 13 Januarie aangeteken is. Dié styging is in weerwil van die ooraanbod op die wêreldmark.

Die Internasionale Energie-assosiasie (IEA) het verlede week bereken dat 3,2 miljoen vate olie per dag méér in April uitgepomp is as in April 2014, berig Bloomberg. Produksie vanuit Rusland, China, Colombië, Viëtnam en Maleisië bly “verbasend sterk”, sê die IEA.

Al is dit steeds swak, het die rand vir die maand tot dusver eintlik gehelp om die verwagte styging in die brandstofpryse in te perk omdat die geldeenheid sterker teenoor die dollar is as verlede maand. Maandagoggend teen 11:15 was ’n dollar R11,83 werd.

Die rand kan dalk dié week skommel as eers die inflasiekoers Woensdag en dan die Reserwebank se rentekoersaankondiging Donderdag aangekondig word.

Verbruikers met skuld hoef waarskynlik nie asem op te hou oor dié aankondiging nie. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het volgens Reuters Donderdag in ’n onderhoud met Financial Mail gesê inflasie moet geruime tyd bo die bank se teiken van 6% styg voordat hy rentekoerse sal verhoog.

Kganyago verwag dat inflasie oor die volgende maande hoër sal neig, deels weens die brandstofprysstygings. Inflasie was in Maart 4%.

Wen of verloor jy?

​Die prys van 95-oktaan-petrol het die afgelope sewe maande só verander:

  • November: -45c
  • Desember: -69c
  • Januarie: -R1,23
  • Februarie: -93c
  • Maart: +96c
  • April: +R1,60 (R1,62 in Gauteng)
  • Mei: onveranderd

Netto daling die afgelope sewe maande: 74c.

Petrol in Gauteng is steeds R1,50 goedkoper as op die hoogtepunt van R14,39 in April 2014. Aan die kus is petrol R1,52 goedkoper as die R13,98 in April 2014.

Article credit: http://www.netwerk24.com/sake/2015-05-18-petrolprys-styging-van-tot-50c-dalk-jou-voorland-selfs-meer-vir-diesel